|
Begrippe wat tot die maak van KANTE VAN DIE WIND aanleiding gegee het: Die vier boonste blokkies is só gemaak dat hulle gesamentlik deur 'n beheerblokkie nader aan die middel beweeg kan word en dat hulle dan weer gesamentlik na die hoeke beweeg kan word. Hierdie beweging sinspeel daarop dat daar 'n tyd is om nes te maak en 'n tyd om die nes te verlaat. Daar is 'n tyd om bymekaar te kom en 'n tyd om uitmekaar te gaan. Elke eindpunt is op sy beurt weer 'n nuwe vertrekpunt.
Om ons spesifieke paaie deur die lewe te voorspel en vir ons 'n gemaklike lot te kies is nie altyd moontlik nie. Die plekke waar die voorsienigheid ons laat vertoef is ook nie altyd vir ons lekker of geskik nie. Ons voel soms asof ons aan die winde uitgelewer is. Hulle waai mos waar hulle wil. Maar, dit is wel vir ons beskore om onself te laat geld te midde van die wispelturige winde van voor, of die winde wat ons skippie op vreemde plekke te laat beland. Dit is wel vir ons moontlike om respek af te dwing met die manier waarop ons koers hou, of van koers verander.
In KANTE VAN DIE WIND is die klassieke name van die vier winde in Romeinse lettertipe liggies op glas bo die werk aangebring sodat dit lyk of hulle daar tussen die ander aktiwiteite sweef. Van kleins af leer ons dat die dinge wat ons werk in die wiele probeer ry daar is om ons te temper en voor te bery vir nog groter uitdagingings. Die winde kan erg waai, soms almal tegelyk Pope, in sy Art of Sinking (1727), skryf: "Recipe for a tempest. Take Eurus, Zephyr, Auster and Boreas, and cast them together in one verse." Die naam van AUSTER, 'n wind van die suidekant af, is aangebring bo die beheerknoppie om te sinspeel op Suid-Afrika. BOREAS aan die oorkant van AUSTER, is die noordewind. EURUS is 'n wind wat van die oostekant af waai en ZEPHYR is die westewind.
|