Voltooiing: Maart, 2001
Afmetings: 395mm (wydte) X 415mm (lengte) X 170mm (hoogte)
Geteken: Beide werke is op die bodem geteken, gedateer en genommer.
Materiaal en vervaardiging: Die sykante van die houtgedeeltes is van rooshout uit Afrika, die bokant van imbuia en die beweegbare houtblokkies van hardekool. Die boonste blad is gepoleerde glas waarop die klassieke name van die vier winde gesandspuit is. Die glasblad is aan die houtblad vas met agt boute. Die boute is in aluminiumpypies geanker om die glasblad stewig en eweredig gelyk bo die houtblad te hou. Rubberwassers keer dat die glas nie breek waar dit met staal in kontak kom nie. Die glasblad en boute kan verwyder word deur die bodem van die werk te verwyder. Aan die binnekant van die werk is is 'n katrolstelsel van vislyn wat in ingedraaide ogies rondgly. Verstellings en herstelwerk aan die katrolstelsel kan ook gedoen word deur die bodem van die werk los te draai. Die bodem is aan die een kant gemerk in ooreenstemming met een van die sykante sodat die bodem altyd op dieselfde plek teruggeplaas kan word. Die bodem is van geparste veselhout en is met velt bedek sodat dit nie die oppervlakte waarop dit staan sal krap nie.
Bewegende dele: Aan die kant van die werk is 'n skuifblokkie wat die vier boonste blokkies gelyktydig beweeg. Ideaal gesproke moet die blokkie stadig heen en weer beweeg word terwyl die gelyktydige beweging aan die bokant peinsend waargeneem word. Die kantblokkie beweeg die vier boonste blokkies redelik maklik maar 'n hardhandige of aanhoudende gepluk sal die leeftyd van die werk verkort. Die vier beweegbare blokkies aan die bokant moet nie onafhanklik beweeg word nie en die glasblad oor die werk keer dan ook dat hulle nie per ongeluk beweeg of gestamp kan word nie, of dat iemand nie dalk per ongeluk 'n nat glas of iets dergeliks op die houtblad neersit nie.
Kante van die Wind
Geleentheid: Vervaardig in opdrag van die Rande Afrikaanse Universiteit as 'n geskenk aan die visekanselier, professor J.C. van der Walt, en sy gesin, ter herdenking van sy aftrede.'n Oplaag van twee identiese beeldhouwerke is vervaardig, een vir professor van der Walt om die universiteit in herrinering te roep, en een vir die universiteitsversameling om professor van der Walt te onhou.
Begrippe wat tot die maak van KANTE VAN DIE WIND aanleiding gegee het: Die vier boonste blokkies is só gemaak dat hulle gesamentlik deur 'n beheerblokkie nader aan die middel beweeg kan word en dat hulle dan weer gesamentlik na die hoeke beweeg kan word. Hierdie beweging sinspeel daarop dat daar 'n tyd is om nes te maak en 'n tyd om die nes te verlaat. Daar is 'n tyd om bymekaar te kom en 'n tyd om uitmekaar te gaan. Elke eindpunt is op sy beurt weer 'n nuwe vertrekpunt.
Om ons spesifieke paaie deur die lewe te voorspel en vir ons 'n gemaklike lot te kies is nie altyd moontlik nie. Die plekke waar die voorsienigheid ons laat vertoef is ook nie altyd vir ons lekker of geskik nie. Ons voel soms asof ons aan die winde uitgelewer is. Hulle waai mos waar hulle wil. Maar, dit is wel vir ons beskore om onself te laat geld te midde van die wispelturige winde van voor, of die winde wat ons skippie op vreemde plekke te laat beland. Dit is wel vir ons moontlike om respek af te dwing met die manier waarop ons koers hou, of van koers verander.
In KANTE VAN DIE WIND is die klassieke name van die vier winde in Romeinse lettertipe liggies op glas bo die werk aangebring sodat dit lyk of hulle daar tussen die ander aktiwiteite sweef. Van kleins af leer ons dat die dinge wat ons werk in die wiele probeer ry daar is om ons te temper en voor te bery vir nog groter uitdagingings. Die winde kan erg waai, soms almal tegelyk Pope, in sy Art of Sinking(1727), skryf: "Recipe for a tempest. Take Eurus, Zephyr, Auster and Boreas, and cast them together in one verse." Die naam vanAUSTER, 'n wind van die suidekant af, is aangebring bo die beheerknoppie om te sinspeel op Suid-Afrika. BOREAS aan die oorkant vanAUSTER, is die noordewind. EURUS is 'n wind wat van die oostekant af waai en ZEPHYR is die westewind.