top of page

20??

Laser Cut Metal Sheets

Tien Teen Een

  • Hoe maak ek ’n werk onder die vaandel van Ik ben een Afrikander? Ek het lank probeer uitwerk hoe ek aan so ’n uitstalling sal kan deelneem. Dis vir my altyd ’n netelige ding om uit te werk wat ek is (of nie is nie).

     

    Ek dink soms ek weet wat ek wil wees – dan raak ek bang as ek mooi daaroor dink. Lankal het die besef dat ek eintlik behoorlik verlore is – nie veel meer nie.

     

    In die besonder weet ek nie wie ek is nie en ek wil nie regtig weet nie want dit maak my deurmekaar en selfs seer.

     

    Die dinge wat ek veronderstel is om aan te behoort het ek nie gekies nie. Ek is byvoorbeeld in Suid-Afrikaanse burgerskap ingedwing en ek moet ewe noodgedwonge ABSA bank gebruik. Ek wens dat ek dit nie hoef te doen nie.

     

    Ek hou nie veel van die Paulus van die Bybel nie, maar ek ondersteun sy lewenstyl waarin hy alle eiebelange en -behore opgegee het (1Korintiërs 9:19-23). Daarvolgens is hy vry en behoort hy aan geen-een of geen saak nie. Gevolglik kan hy alles in almal wees en kan hy hom tot enige belange of filosofiese ingesteldheid beroep. Hy hoef nie te kies wat om te wees nie – in ’n sekere sin is hy niks en daarom ook alles.

     

    Geluk aan Hendrik Biebouw, dit lyk my hy het tot ’n besef gekom oor wie hy is – en dis iets wat hy nie voorheen was nie. As mens regtig iets is dink jy nie tot vervelens toe daaroor nie – daar is te veel om te doen en te dink sonder om verstrik te raak in wat mens moontlik moes gewees het of is. Wole Soyinka het gesê: “"A tiger doesn’t proclaim its tigerness; it jumps on its prey."

     

    Vir my is dit onmoontlik om te sê dat ek ’n Afrikander is. Miskien kan ek waag om te sê dat ek geen Afrikander is nie – dis nie so belangrik nie. Ek is wat ek is.

     

    Ek behoort nie aan ’n spesifieke politieke party nie, maar ek behou myself die reg voor om enigiets by enige party te leer of om enige party te kritiseer. Ek ondersteun nie ’n aangewese regstelsel of konstitusionele bestel nie, maar ek beroep my op enigiets en alles wat nog ooit oor reg en geregtigheid kwytgeraak is.

     

    Ek behoort nie aan ’n spesifieke geloof of kerk nie maar ek behou myself die reg voor om by enige geloof of geloofstellings aanklank te vind – en ek doen ook. Net so wil ek myself kan distansieer met goeie rede. Ek vind veral geloofsinstellings wat onomwonde lewenslange diens en dienswilligheid vereis agterdogtig.

     

    Ek behoort nie aan enige klub of instansie nie, maar as ’n klub of instansie hom daartoe leen dan sal ek sy doen en late bywoon en selfs geniet. As kunstenaar behoort ek aan geen kunsgalery nie. Elke uitstalling en projek word van nuuts af beplan en heroorweeg. Dit laat my ook net soveel vryheid om my rug, na behoorlike nadenke, op enige en alle doene en late te keer soos ek gelei voel.

     

    Ek behoort aan geen nasie of volk nie. Dit is ’n vals aanmaning en veroorsaak te maklik oordrewe lojaliteite en onenigheid en self oorlog. Ek is veral teen politieke grense wat nasieskap afdwing. Ek wil graag met alle nasies vereenselwig word en ek dink alle mense bied wonderlike dinge om by mekaar te leer en by in te skakel.

     

    My oorweging is dus: “Ik ben geen Afrikander (I am no African)” Ek wil dit, en al die ander dinge wat ek goddank nie is nie, graag vier en daarop drink. Vir my kunswerk TIEN TEEN EEN het ek dus die woorde van wat ek dink ek nie is nie so geskryf en gerangskik dat hulle ’n soort drinkbeker of trofee uitspel.

     

    Cheers!

    Willem Boshoff

bottom of page